“Trek my liedjies uitmekaar uit en skryf oor hulle,” het Koos du Plessis gesê, “maar los my uit .?.?. ek is ’n doodgewone ou.” Koos Doep, soos hy in die volksmond bekend staan, sou in 2025 sy 80ste verjaarsdag gevier het. En tog, ’n goeie 40 jaar ná sy dood as daar gepraat word van “Koos”, dan weet bykans enige persoon van wie daar gepraat word en daar is dadelik ’n klomp treffers wat by ’n mens opkom. Dit is die omvang van Koos du Plessis se bekendheid en sy invloed op Afrikaans en Afrikaanse musiek.